4 Julie 2019
Die Ouditeur Generaal het ‘n donker prentjie van die finansiële wanbestuur in die land se 257 munisipaliteite geskilder en gesê dat verantwoordbaarheid steeds afneem terwyl ongemagtigde uitgawes hoog bly.
Staatskaping het ‘n vernietigende invloed op alle fasette van die Suid Afrikaanse samelewing. In terme van verslaggewing geniet staatskaping voorrang. Die kaping van Suid Afrika se munisipaliteite, was, en is nog, selfs meer vernietigend. Winsgewende munisipaliteite is in disfunksionele, bankrot entiteite omskep as gevolg van staatskaping, onbevoegdheid, wanadministrasie, gulsigheid en blote diefstal. Hierdie het die vernietiging van dorpe, besighede en werksgeleenthede tot gevolg.
Ten spyte van die feit dat baie van ons verantwoordelikheid vir die roof van nasionale bates kan omseil, is dit nie die geval waar die plundering van die omgewing waarin ons woon en werk plaasvind nie – op munisipale vlak. Dit het voor ons oë plaasgevind, maar ons het verkies om nie betrokke te raak nie; ons het selfs verkies om nie te weet nie.
MAATREȄLS DEUR DIE MINISTER VAN FINANSIES
Die Minister van Finansies, Mnr Tito Mboweni, en die Tesourie het onlangs regulasies ingestel wat daarop gemik is om korrupsie en vrugtelose uitgawes teen te werk. Hierdie regulasies beinvloed alle tereine van munisipale sake – besigheidsklas vlugte, duur motors, partytjies, spanbou-oefeninge, etes tydens begrotingsredes, die finansiering van verkiesings en reklame veldtogte, ens.
Die regulasies beklemtoon die mate waartoe munisipale amptenare en openbare verteenwoordigers rojaal gelewe het op die koste van die fiskus en belastingbetalers en voortgaan om openbare fondse op nie-prioriteitsitems te spandeer.
HIERDIE MAATREȄLS STEL DIE GEMEENSKAP IN STAAT OM MUNISIPALITEITE VERANTWOORDBAAR TE HOU
Hierdie regulasies maak dit vir elke munisipaliteit verpligtend om ‘n kostebesparingsplan op te stel – wat op die munisipaliteit se webtuiste vertoon moet word – met gevolge in geval van nie-nakoming.
SONDER WAAKSAME DEELNAME SAL DAAR EGTER NIKS VAN KOM NIE
Hierdie optrede deur die Tesourie is ‘n positiewe stap in die proses om munisipaliteite tot op ‘n vlak van funksionaliteit te herstel. Die burgery moet egter hulle rol vervul om te verseker dat dit plaasvind:
- besighede (en individue) moet op ‘n georganiseerde en ywerige basis betrokke raak;
- kostebesparende planne moet geëvalueer word;
- munisipale prestasies moet noukeurig gemonitor word;
- swak prestasie en nie-nakoming mag nie geduld word nie; en
- waar munisipaliteite nie positief reageer nie waar en wanneer voldoening vereis word, moet die Tesourie versoek word om die aangeleentheid te besleg.
Hierdie stappe deur die Tesourie is geimplimenteer om munisipaliteite verantwoordbaar te hou. Dit is egter net die plaaslike gemeenskap, in besonder die sakegemeenskap, wat in staat is om verantwoordbaarheid te eis.
Sonder ‘n waaksame gemeenskap sal die ou destruktiewe gewoontes voortgesit word en sal ons net onsself kan blameer.
Hierdie meningstuk is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employer’s Association of South Africa (NEASA). Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.
Vir verdere inligting:
NEASA Media Departement
Chereze Maritz
chereze@neasa.co.za