30 Maart 2020

Die President het onlangs aangekondig dat die Nywerheidsonwikkelingskorporasie (IDC), tesame met die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (DTIC), ‘n ondersteuningspakket van meer as R3 miljard saamgestel het om die behoeftes van kwesbare instansies aan te spreek, asook om die finansiering van maatskappye wat van kritieke belang is vir die stryd teen Covid-19 en die ekonomiese impak daarvan, te versnel.

Alhoewel daar nie veel inligting is rakende die kwalifiseringsvereistes vir die IDC fonds nie, blyk dit duidelik dat R200 miljoen wat toegeken is aan die Nasionale Bemagtigingsfonds (NEF), vir besighede wat betrokke is by die vervaardiging en verspreiding van mediese toerusting en noodsaaklike voedsel items, slegs geoormerk is vir maatskappye met ten minste 51% swart eienaarskap.

‘n Verdere R200 miljoen is aan die Finansieringsagentskap vir Klein Ondernemings (SEFA) toegeken vir die doel van COVID-19 verwante bystand. In hierdie geval sal Suid-Afrika se demografie, onder andere, die toekenning van die hulp bepaal. Besighede wat deur minderheidsgroepe (blankes, kleurlinge en Indiërs) besit word sal, ongeag enige ander bepalende faktor en ekonomiese bydrae, toegang tot slegs 20% van hierdie fonds verkry.

Dit is telleurstellend dat ras weereens in ag geneem word en dit in ‘n tyd wanneer daar van alle Suid-Afrikaners verwag word om saam te staan teen ‘n ongekende vyand. Hierdie aanslag dra geensins by tot die President se oproep vir eenheid om hierdie uitdaging aan te pak nie. Daar is geen kleur in die loopgrawe nie.

Die impak op swart werknemers in diens van moontlik verdienstelike ondernemings wat deur minderheidsgroepe besit word, sal in beide die korttermyn, asook in die maande en jare wat volg gevoel word wanneer die langdurige impak van COVID-19 Suid-Afrika tref. Die effek van swart bemagtiging beleide op SMMEs is reeds ‘n reuse bydraende faktor tot Suid-Afrika se werkloosheidskrisis.

Die wat nie by hierdie fondse baat nie, moenie hoop verloor nie. Hierdie fondse, die R400 miljoen en die R3 biljoen, is onbeduidend in vergelyking met die uitdagings om individuele ondernemings en die ekonomie in die algemeen te onderhou. Wat nou vereis gaan word, is om handel te dryf teen alle verwagtinge in, teen alle teëspoed, met waagmoed en vasberadenheid.

Hierdie persverklaring is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employers’ Association of South Africa (NEASA). Hy skryf hierdie in sy persoonlike hoedanigheid.

Vir meer inligting:

NEASA Media Departement
Marietha Thirion

marietha@neasa.co.za