22 November 2019

Dit was met ‘n mate van blydskap dat ek die President se aankondiging gelees het rakende ‘n aantal beplande hervormings wat ten doel het om besigheidstoestande in Suid-Afrika te verbeter. Dit sluit die bekendstelling van die ‘Public Procurement Bill’ in, wat vereis dat “SMMEs” (klein- en middelslagbesighede) gesubkontrakteer moet word vir minstens 30% van die waarde van ‘n kontrak, vir alle kontrakte bo R30 miljoen.

Tot my ontnugtering het ek ontdek dat hierdie bepaling uitsluitlik van toepassing is op “SMMEs” met ten minste 51% swart eienaarskap.

Ek was teleurgesteld dat hierdie aankondiging plaasgevind het kort nadat die President eerstehands in Japan beleef het hoe dat ‘n ‘span’ wat saamwerk, en een doel nastreef, sukses kan bereik. Ek het gevolglik oorweeg om my besorgdheid oor die feit dat, wat hier plaasvind, nie tot die voordeel van Suid-Afrikaners strek nie, uit te spreek – en dat dié wat werklik daaruit voordeel moet trek, eindelaas die meeste benadeel sal word.

Ek wou my siening as volg verwoord:

  • hierdie tipe beleid, van beide voor en na 1994, is die oorsaak van Suid-Afrika se onvermoë om vooruitgang te maak;
  • dit beklemtoon rasseverskille en verskans ras-vooroordeel, wat daartoe lei dat ons ‘teen mekaar speel’ en sodoende verseker dat Suid-Afrika hoegenaamd nie sy volle potensiaal kan bereik nie;
  • talle entrepreneurs, wat nie die 51% swart eienaarskap-drempel haal nie, sal uitgesluit word van deelname aan staatskontrakte, bloot op grond van hul velkleur, die ‘sondes’ van hul voorvaders en die feit dat hulle beheer wil uitoefen oor hul eie besighede, wat hulle self op die been gebring het en alles voor opgeoffer het;
  • hierdie entrepreneurs wat, teen alle verwagting in, steeds die hartklop van die ekonomie is, is egter steeds betrokke by staatskontrakte, maar slegs agter die skerms. Hulle betrokkenheid vereis, in die meeste gevalle, vele middelmanne, ook bekend as ‘tenderpreneurs’, wie se betrokkenheid die prys van die produk of diens veelvoudig vermeerder. In hierdie omstandighede is die kliënt (belastingbetaler) die verloorder;
  • inaggenome die uitdagings daaraan verbonde om ‘n nuwe besigheid te vestig (90% van nuwe besighede misluk in die eerste 5 jaar), kan geen regering bekostig om hoegenaamd gevestigde “SMMEs” van die ekonomie uit te sluit nie;
  • hierdie “SMMEs”, wat nie aan “BEE” vereistes voldoen nie, is egter belastingbetalers wat gediskwalifiseer word om kontrakte te bekom vanaf die einste staatsondernemings wat deur “SMMEs” se belasting aan die lewe gehou word; hierdie is ‘n reëling wat nie geregverdig kan word nie; en
  • die geleidelike toename in Suid-Afrika se werkloosheidssyfer en ongelykheidsvlakke is sprekend van die rampspoedige gevolge van hierdie beleide.

Aangesien ek egter besef dat hierdie kwessies buite die huidige transformasie-bedeling val, het ek daarteen besluit om my besorgdheid uit te spreek. Ek het vrede gemaak met die feit dat verandering, binne die konteks van die huidige onvolhoubare bedeling, slegs sal plaasvind met ‘n kombinasie van ‘n Damaskuspad-ervaring, politieke integriteit en waagmoed. Alhoewel niks onmoontlik is nie, is daar geen vooruitsig van verandering aan die huidige transformasie benadering nie.
 

Wat wél verandering mag meebring, sal nie noodwendig ‘n verandering van gesindheid wees nie, maar eerder ‘n kru ontnugtering, weliswaar te laat, dat vir enige nasie om homself uit die moeilikeid te red, hy hoegenaamd nie kan bekostig om enige aanbod van hulp – van enige van sy burgers – van die hand te wys nie.

 

My boodskap is gerig aan die miljoene (swart, wit, Indiër, Kleurling) wat nie baat vind by die huidige transformasie-bedeling nie, waarvan “BEE” maar een element is. Vir die volgende redes, sluit my boodskap egter nie diegene uit wat tans voordeel trek uit hierdie transformasie-aanslag nie:
  • hierdie ‘voordeel’ sal van korte duur wees;
  • die bronne wat hierdie ekonomies-vyandige aanslag befonds, sal binnekort uitgeput wees;
  • terwyl hierdie praktyke hulself uitspeel, sal wedywering vir bronne toeneem en selfs onsmaaklik raak;
  • vrees en onsekerheid sal onder hierdie omstandighede toeneem;
  • waardevolle geleenthede vir innovering en die vermoë om mee te ding op grond van gesonde ekonomiese beginsels sal terselfdertyd verlore gaan; en
  • laastens, maar die belangrikste, die huidige “BEE” begunstigdes is ons landsgenote, ons mede Suid-Afrikaners en, soos ons, is hulle ook onderworpe aan die uitdagings van die lewe.
 My boodskap aan elke Suid-Afrikaner is:
  • tel jou seëninge;
  • speel die ‘kaarte’ wat jy ontvang het;
  • indien hierdie spesifieke beleid jou raak, bevind jy jouself reeds in ‘n bevoorregte posisie;
  • miljoene Suid-Afrikaners sal ‘wat wil gee’ om in jou skoene te staan;
  • die struikelblokke wat in jou pad staan, is tot jou voordeel; dit bewerkstellig balans en berei jou voor vir ‘n groter rol;
  • niks is maklik nie; en wanneer dit is, is dit nie volhoubaar nie;
  • egte welvaart strek verder as die ‘glans’ waarop ons so maklik ons visie rig;
  • jy verloor eers wanneer jy die handdoek ingooi; en
  • harde werk, integriteit en deursettingsvermoë lewer altyd die beste resultate, maar dit verg geduld.

Aan ‘n voornemende entrepreneur: moenie toelaat dat enige struikelblok jou kniehalter nie. Die einste uitdaging wat jy as ‘n struikelblok beskou, is inderwaarheid ‘n geleentheid, verbloem as teenspoed. Laastens, moenie enige vorm van negatiwiteit of bitterheid duld nie en vermy ook advies van diegene wat hulself daaraan skuldig maak.

Hierdie meningstuk is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employers’ Association of South Africa (NEASA). Hy skryf dit in sy persoonlike hoedanigheid.

Vir verdere inligting:

NEASA Media Departement
Marietha Thirion
marietha@neasa.co.za