STAATSREDE 2020: Ek is jammer om te sê …

Gisteraand se gebeure was ‘n ware weerspieëling van die toestand van Suid-Afrika. Die regerende party en die President is nie net onbevoeg om hierdie krisis te bestuur nie, maar beskou dit waarskynlik nie eers as ‘n krisis nie. Die President se toespraak het weereens bevestig dat, selfs al begryp die ANC, tot ‘n mate, die aard van die groeiende krisis, hulle dit suksesvol verbloem en geen oplossing het nie.

Die ‘hoogtepunt’ van die aand was die EFF se optrede. Hulle skandelike gedrag het die volgende dringende kwessies aan die lig gebring:

  • hulle is eerstens ‘n klomp sinnelose anargiste wat, indien hulle toegelaat word om te floreer, hierdie land in diepe wanhoop sal dompel. Hulle optrede herinner aan die optrede van die Nazis in die Reichstag tydens Hitler se pad na mag;
  • tweedens, die swak en huiwerige ANC het geen antwoord hierop nie. Om eerlik te wees, sommige van hulle, in die geheim, ondersteun selfs die EFF se gedrag en beleide; en
  • laastens, die EFF floreer inderwaarheid binne die konteks van die ANC se beleid en styl.

Afgesien van die President se stellings in verband met Eskom, wat afsonderlike kommentaar verdien, het die President hoegenaamd nie die oorsake van die probleme in munisipaliteite, water en sanitasie, gesondheid, onderwys, werkloosheid (in die besonder die 70 persent jeugwerkloosheidsyfer), ‘grondhervorming’, lae sakevertroue en lae ekonomiese groei aangespreek nie.

Die krisis in Suid-Afrika kan vergelyk word met die krisis waarin Brittanje homself bevind het teen Nazi Duitsland. Soortgelyk aan ons uitdagings, was hulle krisis ook ‘n geval van lewe en dood. Hulle Eerste Minister het in hulle parlement opgestaan en met waagmoed en selfvertroue gelei. President Ramaphosa het Suid-Afrika gisteraand in dié opsig in die steek gelaat.

Hoe gaan verantwoordelike Suid-Afrikaners optree binne hierdie konteks? Ons gaan, nou meer as ooit te vore, ons deel doen om Suid-Afrika te laat werk. Ons sal nie verhinder word om, tydens hierdie een leeftyd, ons talente en gawes aan te wend ter bevordering van die groter belang nie.

 

Hierdie persverklaring is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employers’ Association of South Africa (NEASA). Hy skryf hierdie in sy persoonlike hoedanigheid.

Vir meer inligting:

NEASA Media Departement
Marietha Thirion

marietha@neasa.co.za