10 Februarie 2020
Geagte Mnr die President
Die opspraakwekkende gebeure by Nasrec in Desember 2017 wat gelei het tot u verkiesing as President van die ANC, was met hernude hoop deur baie Suid-Afrikaners begroet. Die vertroue in u is verder bevestig tydens die 2019 algemene verkiesing, toe talle Suid-Afrikaners, wat nooit voorheen sou oorweeg om vir die ANC te stem nie, dit juis gedoen het as gevolg van hulle hoop dat u die verotting sou stop en Suid-Afrika op ‘n gesonde ekonomiese pad sou plaas.
Die van ons wat hierdie vertroue gedeel het, is verkeerd bewys. Of altans, u het ons verkeerd bewys.
In tye van onsekerheid gryp die mens dikwels na grashalms, onbewus van die nutteloosheid daarvan. Daar was ‘n tyd toe baie, myself inkluis, werklik geglo het dat u ‘n sakeman is met genoegsame begrip van wat nodig is om nuwe lewe in die ekonomie te blaas. Dit blyk egter ‘n wanindruk te wees. U is nie ‘n ware sakeman nie; u is bloot ‘n opportunistiese politikus wat skouspelagtig bevoordeel is deur politieke mag en -guns.
U sosialistiese oortuigings, gepaardgaande met die feit dat u verwyderd is van besigheidsrealiteite, lei daartoe dat u belaglike idees ondersteun, soos die ‘onteiening van eiendom sonder vergoeding’ (wat u onder andere bestempel het as Suid-Afrika se transformasie na die ‘Tuin van Eden’), die Nasionale Gesondheidsversekering en, nou dat die staatskoffers deur korrupsie en wanadministrasie gestroop is (onder u toesig as Adjunk-President en President), die jongste inisiatief wat staatskapers en onbekwame kaders toegang tot pensioenfondse gee.
Hierdie is slegs die nuuste, tog mees radikale, inisiatiewe wat Suid-Afrika oor die spreekwoordelike afgrond sal stuur.
Daar was ‘n tyd toe ek een van diegene was wat u stilswye oor die korrupsie wat voor u oë afgespeel het (tydens u ampstermyn as Adjunk-President) verdedig het. Ek het ook u besluiteloosheid as President verdedig – alles ter wille van u politieke oorlewing. Ek was verkeerd.
Indien dit vir u onmoontlik was om staatskaping te verhoed binne die bestek van u bevoorregte kabinetsposisie, moes u dit nietemin aan die groot klok gehang het – en sodoende selfs die risiko geloop het om deur die vorige President ontslaan te word. Dit sou egter aan u integriteit-status verleen het, wat daartoe sou lei dat miljoene Suid-Afrikaners u sou ondersteun het. U het egter verkies om te swyg. Dit maak van u ‘n medepligtige tot die korrupsie wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika homself tans in hierdie posisie vind.
Sedert u verkiesing tot President, het u volhard met u besluitelose styl. U is huiwerig met betrekking tot optrede teen staatskaping, u pamperlang grondkapers, populiste en sosialiste; terselfdetyd poog u om besigheid gerus te stel. U praat uit een mond met beleggers en uit ‘n ander met u kiesers. Dit, Mnr die President, is in alle opsigte teenproduktief. Aangesien hierdie optrede geensins ‘n duidelike rigting of leierskap illustreer nie, versterk dit bloot die EFF- en Zuma-aanhangers en skrik dit terselfdetyd beleggers af, en lei dit gevolglik tot die sosio-ekonomiese probleme wat Suid Afrika tans in die gesig staar.
Dalk was daardie aand by Nasrec – die aand wat u verkies is tot President van die ANC, toe u in David Mabuza se lokval getrap het en uself daartoe verbind het om hom as Adjunk-President aan te stel in ruil vir u verkiesing tot President – nie die glorieryke oorwinning wat sommige gedink het dit was nie. Suid-Afrikaners het geglo dat u beslissend sou optree om die verotting uit te roei, asook die korrupsie en wanadministrasie – die gevolg van kader-ontplooing. Tot en met daardie oomblik het Suid-Afrikaners, tot ‘n mate, geweet wat op die spel is en waarteen hulle te staan gaan kom. Suid-Afrikaners van alle nasionaliteite het gemobiliseer teen ‘n enorme, dog erkenbare bedreiging wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het.
Daardie aand, blyk dit nou, het bloot ‘n nuwe era ingelei waarbinne ons, soos die spreekwoordelike padda in die louwarm water, gelok is na ‘n valse sin van sekuriteit. Niksvermoedende Suid-Afrikaners, in besonder besigheid, het hulle skanse laat val; hulle het ‘Cyril’ vertrou. Gevolglik bevind Suid-Afrika homself nou in groter gevaar as ooit te vore.
Mnr die President, tydens die Staatsrede op 13 Februarie 2020, het u weereens die geleentheid om u visie vir Suid-Afrika te deel. Sou dit werklik u voorneme wees om toe te kyk oor die land se voortgesette ondergang, deur middel van onteiening van eiendom sonder vergoeding, die totale uitwissing van ons gesondheidsdienste en die stroping van pensioengelde, stel dit dan onomwonde so. Stel dit duidelik aan Suid-Afrikaanse besigheid en buitelandse beleggers en moenie dat Moody’s verder hieroor wonder nie.
Indien u egter ook die mening toegedaan is dat hierdie beleidsrigtings die ondergang van Suid-Afrika gaan bewerkstellig, stel dit dan ook onteenseglik so. Plaas u politieke loopbaan op die spel. Sou dit lei tot u tydelike politieke ondergang, laat dit so wees – ten minste sal u dan as ‘n ware leier erken word en sal miljoene u ondersteun.
U is reeds deur hiënas omsingel, Mnr die President. U huiwerige, gekwesde postuur stem hulle tot dapperheid. Hulle beraam u ondergang. Om nou sagkuns op te tree mag moontlik vir u ‘n paar maande koop, maar dit sal u nalatenskap vernietig en Suid-Afrika verlam vir dekades hierna.
Mag u die krag en moed vind om te doen wat reg is.
Ope brief deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employers’ Association of South Africa (NEASA). Hy skryf hierdie in sy persoonlike hoedanigheid.
Vir meer inligting:
NEASA Media Departement
Marietha Thirion
marietha@neasa.co.za