14 Mei 2019

Ek glo die President wanneer hy sê dat hy die land wil herstel; ek betwyfel nie sy opregtheid nie.

Die uitdagings wat die President in die gesig staar, ten einde te bereik wat hy in die vooruitsig stel, moenie onderskat word nie. Binne die konteks van die gebroke Suid-Afrika wat hy geërf het, blyk dat sy taak bonatuurlike vermoëns gaan vereis. Hy sal nie sy doelwitte oornag kan bereik nie. Beide hy en alle Suid-Afrikaners sal geduld moet toon. Dit gaan langer neem om Suid-Afrika te herstel as wat dit geneem het om dit te verwoes. Dit is verál die geval wanneer dié wat voordeel trek uit Suid-Afrika se ondergang alles in hulle vermoë doen om die President se inisiatiewe te ontspoor; dit sluit in die inisiatiewe van diegene wat sy hande sterk.

Dit is vanselfsprekend dat die taak om Suid-Afrika weer op koers te plaas nie net die plig is van die President, politiese leiers en amptenare wat sy visie ondersteun nie; dit is ook die plig van elke Suid-Afrikaner. Ongeag vir wie jy gestem het op 8 Mei 2019, daar rus ‘n verantwoordelikheid op jou om by te dra tot Suid-Afrika se sukses.

Alle Suid-Afrikaners beskik oor die konstitusionele reg (dalk selfs die konstitusionele verpligting) om te stem ooreenkomstig  gewete, of selfs emosie. Geen Suid-Afrikaner het egter die reg om Suid-Afrika te saboteer deur wat ons doen, nalaat om te doen, of deur wat ons sê nie.

Ons onderskat dikwels die verwoestende gevolge wat ons afbrekende woorde het – wat radikaal verskil van opbouende kritiek – nie net op onsself nie, maar op almal om ons. Dit vergiftig en verlam. ‘Daar is lewe en dood in die mag van die tong en die wat dit beoefen sal die vrug daarvan smaak.’ Hierdie is ‘n onafwendbare, universele waarheid. Negatiwiteit beloon nooit nie. NOOIT NIE! 

Ons woorde het die mag om op te bou, te motiveer, te inspireer, te bemoedig om deur te druk en aan te hou, selfs teen alle verwagtinge in; of dit kan ontmoedig, verlam en uiteindelik verwoes. Watter voordeel lê in die verlammende gevolg van blatante, of selfs subtiele, negatiwiteit binne die konteks van oplossings, herstel en uiteindelike voorspoed?

Met verwysing na hierdie spesifieke konteks, staan daar in Ester 4:14: ‘… en wie weet of jy nie met die oog op ‘n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geroep is nie?’ Dit mag dalk net die geval wees dat President Ramaphosa, juis op hierdie oomblik in ons geskiedenis, geroep is vir hierdie taak. Dit is nie vir my om te sê nie, maar ek is geïnspireer om hom ten volle te ondersteun tot die beste van my vermoëns – om sodoende my bydrae te maak tot Suid-Afrika se sukses.

Hierdie meningstuk is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employer’s Association of South Africa (NEASA). Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Vir verdere inligting:
NEASA Media Departement
Chereze Maritz
chereze@neasa.co.za